This is where I share a mix of my illustration and a touch of pretty things and places I've discovered in my day.

Search This Blog

Friday, August 10, 2012

Ons praat Afrikaans op die R62

Ons vertrek die oggend uit Franschoek na 'n wonderlike aand met volstruis fillet, 'n paar bottels Wolftrap,'n klein koue Jägermeister en uitsonderlike geselskap na die R62 via die Theewaterskloofpas. Eers getreat met die uitsig van bo-op die pas oor die hele Franschoek valei, voor mens verdwyn - effe karsiek - om die volgende draai van die kronkelpad.

Ons ry eerste deur Villiersdorp waar 'n paar herinneringe deurskemer van 'n vorige kuier. Dis koud buite maar die dag is pragtig. Sonnig en met lekker tunes in die kar voel dit hemels. Dis landskap slaan keer op keer ons asems weg. Dis OOP en skoon en blou, geel en bruin met highlights van oranje-rooi aalwyne wat vol in blom staan. In ons omgewing waar ons bly in Taiwan bly daar 24000 mense per vierkante km. Hier is jy gelukkig as jy een sien!

Ons eerste stop is by Affieplaas 'n padstal net duskant Robertson. Ons koop geskenkies, padkos en geniet 'n heerlike middagete. Volgende Barrydale - ons ry op en af in die opdraand afdraand strate en gaan krap rond in 'n bric-'n-brac winkeltjie. De Waal koop koeksitsers vir sy pottery master in Danshui en ek 'n ou protea poskaart.
Volgende stop Mcgregor. Ons gaan loer in by Millstone pottery - die potter daar is een van die enigste pottebakkers wat sy ware in houtgevuurde kilns bak in Suid Afrika (nes in Taiwan). Ons besluit om te oornag op Montagu - ek bel 'n paar nommers wat beskikbaar is by die toeriste opsteekbord en besluit op die vriendelikste Afrikaanse tannie. "Kom kyk gerus" sê sy. Ek is oorweldig! Wat 'n pragtige cottage en kamer - die cottage is groter as ons woonstel in Taiwan so "dankie tannie ons sal die kamer vat". "So julle is oorspronklik van Pretoria?" Jô tannie, "op Tukkies geswot?" "Jô Tannie". In ons woongebied is jy bly as iemand 'n woordjie Engels kan uitkry. Hier, praat almal Afrikaans. Ongelooflik hoe jy jou taal waardeer as jy dit vir so lank nie gehoor het nie.

Na 'n Wimpy ontbyt val ons weer in die pad - Montagu was lieflik! Ek sou met graagte langer bly! Ons ry deur Ladismith sien towerkop sy kop uitsteek en stop oor in Calitzdorp vir pannekoek en 'n verrasing geselsie met die chef wat vir 8 jaar in Taiwan gebly het. Interessant hoe vinnig hy opgesom het al die dinge wat mens die meeste grief en meeste plesier gee. Dit laat mens gerus voel! Ons ry vlugtig deur Oudshoorn en tot in Glentana waar ons met ope arms en groot borde kos verwelkom word na die laaste strek van ons wonderlike vakansie.


0 comments:

Post a Comment

Followers